Natuur

Die Trekkerspoor

Die Trekkerspoor wandelroete is reeds in 1984 beplan , maar is min of meer eers in 1987 in gebruik geneem. Die hele roete word aangedui met 35 roetepaaltjies in die vorm van ‘n wawiel. Die wandelroete wat Doornkloof deurkruis en doen onder ander aan by verskeie gebeure in ons geskiedenis. Die roete begin by die wawiel in die voortuin van die Ou Huis en is ongeveer 4 kilometer lank, en sirkel oor ‘n groot deel van die plaas.

Die Witstinkhout wandelroete

Die splinternuwe wandelroete is in 2022 goedgekeur en die roete is tans besig om uitgelê te word. Tydens die roete kan 12 verskillende tipe bome besigtig word. 'n Handleiding is te koop wat meer van elke boom vertel. Die TreePro toep kan ook gebruik word tydens die roete.

RYK VOËLLEWE

Dit is verbasend hoeveel spesies in die klein stukkie doringveld voorkom. Die afgelope 10 jaar het ek 121 voëlsoorte hier aangeteken.

Roofvoëls wat waargeneem is, is die bleeksingvalk, wat vermoedelik daar broei, die bruinjakkalsvoël en die kleinrooivalk, wat nie broeiende somerbesoekers is, en die blouvalk wat heeljaar hier vertoef.

Twee van die drie kakelaar soorte wat in Suidelike Afrika voorkom, broei hier. As jy mooi luister, behoort jy op 'n besoek aan die plaas die raserige voëlsoort te hoor. Die rooibekkakelaars met hul lang krom rooi bekke beweeg in groepe tussen die bome en maak gesamentlik 'n lekker lawaai deur te kekkel en te kwetter. Die swartbekkakelaars met soortgelyke, maar krommer swart bekke beweeg gewoonlik in pare of alleen deur die doringveld en maak 'n heel ander geluid wat 'n mens op 'n afstand kan hoor.

'n Hele paar van die laksmanfamilie is hier te sien. Die bekende fiskaallaksman en bokmakierie verg nie bespreking nie. Die rooiruglaksmanne besoek die gebied elke somer. Die mannetjie het 'n blougrys kop en 'n kastaiingbruin rug. Tydens 'n voëlkykuitstappie van Birdlife Vrystaat onlangs het ons die bontroklaksman ook hier gesien. Die voël lyk amper soos 'n bosbontrokkie, maar het 'n tipiese laksman snawel en sy roep klink soos 'n telefoon wat lui.

Die rooivlerkjagra word ook gereeld hier gesien. Hierdie laksman het 'n bruin kroon en rug, roesbruinvlerke en het 'n breë, wit wenkbroustreep en 'n swart streep deur die oog. Die voël het 'n indrukwekkende pronkvlug deur met 'n boog deur die lug te vlieg terwyl hy sy vlerke hard klap en daar geroep word.

Die bosveldtjiriktik wat in die soetdoringbome rondspring, se geluid "tjerik tik tik" behoort jy verseker te hoor. Die grys voëljie het 'n kastaiingbruin onderstert en het korporaalstrepies op sy vlerkies. Die akasiagrysmees, wat swart, grys en wit is, se helder roep "klee klee klee tjeree tjeree", behoort jou aandag te trek as jy gelukkig is om een van hulle in die nabyheid te hê. Die Kalahari wipstert is redelik algemeen in die omgewing en die naam is baie beskrywend, aangesien dit 'n sandbruin voëltjie met 'n rooibruin kruis en stert is.

Van al hierdie doringveldvoëls bly die klein saadvretertjies die mooiste - seker omdat hulle so ongelooflik kleurvol is. Dit is moeilik om hulle te sien, maar as jy gedul dig sit en wag by die stroompie wat deur die terrein vloei, sal hulle kom water drink. Dit is die gewone blousysie (poeierblou bors en gesig met vaalbruin agterkop en rug), koningblousysie (kastaiingbruin met violet wange en blou kruis), gewone melba (groen met karmosynrooi snawel, voorkop en keel), rooibekvuurvinkie (pienk met bruin rug en vlerkies en pienk snawel) en Jamesonse vuurvinkie (pienk met bruin rug en vlerkies, maar bekkie is blou en onderstert swart).

Pak jou verkyker en voëlgids in as jy Doornkloof gaan besoek - dit is die moeite werd.

Derick Labuschagne (Volksblad 25 Januarie 2006)

WIld

Doornkloof is 'n wildplaas, en as jy gelukkig is kom groet die Kameelperde jou sommer al by die hek.  Zebra's kan meestal op die plato gesien word.  Die Rooibokke en Blesbokke kom wei laatmiddag op die kampterreine se grasperke.  Ribokke en Elande is ook volop.  As jy gelukkig is sien jy die Letshwe en Springbokke.