Sarel Cilliers Museum

ʼn Volk wat nie weet waar hul vandaan kom nie sal ook nie weet waarheen hul oppad is nie. Op 27 September 2009 het die Die Voortrekkers Vrystaat 2 baie spesiale gebeurtenisse gevier. Eerstens het hul die die 70ste jaar wat Doornkloof in die gebied se besit is gedenk en tweedens die inwyding van die Sarel Cilliers Museum. Met die inwyding van die Sarel Cilliers Museum word ʼn groot deel van ons Afrikanervolk se Erfenis bewaar.
Op 1 Julie 1939 het die Gebiedsbestuur van die Die Voortrekkers van die Oranje Vrystaat ʼn koopkontrak onderteken met Oom Cor Cilliers. Doornkloof is op die dag amptelik oorgedra op die naam van Die Voortrekkers. ʼn Kultuurskat wat behoue sou bly vir die Afrikanerjeug. Voortrekkers van oor die hele land en selfs die buiteland weet van hierdie mooi plaas en watse groot impak dit het op die toerusting van die Afrikaner jeug om moderne Afrikaners, positiewe Burgers en konsekwente Christene te kan wees. Doornkloof sal nog vir baie jare in die toekoms ʼn baken wees vir ons beweging en die Afrikanervolk. Dit sal die tuiste bly van Voortrekkerkinders in die geslagte wat kom.

Sedert die einde van 2006 het ʼn baie ingewikkelde proses begin vir die totstandkoming van die Sarel Cilliers Museum op Doornkloof. In die middel van 2006 is in die media berig oor die verval van die Voortrekkermuseum te Winburg en die beskadiging van ou historiese Bybels in die museum. Hierna het verskeie briewewisselings en gesprekke gevolg met die Departement Sport, Kuns en Kultuur in die Vrystaat en selfs met Minister Palo Jordan op nasionale vlak. Die departement het KL Willie Engelbrecht en HL Piet Strauss met ope arms ontvang by ʼn vergadering einde 2006 om die bewaring van die Afrikaner Erfenis te bespreek. Verskeie vergaderings het gevolg en uiteindelik op 5 Maart 2009 het KL Willie Engelbrecht ʼn kontrak onderteken met die Provinsiale Regering om 78 historiese items oor te dra na Die Voortrekkers Vrystaat. Hierdie items is in 1978 aan die regering gegee op bruikleen deur oud GL Piet Geyer vir uitstalling in die Voortrekker Museum op Winburg.

Die gedagte vir die museum het ontstaan gedurende 2006 nadat die beriggewing in Volksblad begin het. Aan die begin van 2008 het Die Voortrekkers Vrystaat ʼn erflating van bykans R 7 000 ontvang na die dood van Mev. Hannatjie Badenhorst, wie ‘n vierde geslag afstammeling van Sarel Cilliers was. Dit het die weg gebaan vir die begin van die museum. Die Gebiedsbestuur het in 2009 ʼn verdere R 8 500 bewillig en die Sarel Cilliers Museum Projek het in April 2009 volskaals begin onder leiding van KL Willie Engelbrecht. Hierna het 5 maande se harde werk gevolg tot die museum op 27 September 2009 ingewy kon word.

In die museum is meer as 300 items van historiese belang. Die items wat van die grootste historiese waarde het is die Cilliers Familie Bybel (1862), MW Pretorius se Bybel (1899), BJ Cilliers se Bybel (1893), ʼn Boekrakkie gemaak in 1835 deur Erasmus Smith, ʼn Voorlaaier (vervaardig 1830), verskeie gebruiksartikels van Sarel Cilliers en dan ook verskeie items vanuit die Groot Trek en daarna.

Drie direkte afstammeling van Sarel Cilliers het die dag saam met verskeie ander spesiale gaste bygewoon. Die dag is begin met ‘n spesiale seremonie gereël deur GL Samuel Brayshaw waarna ‘n erediens gely is deur HL Piet Strauss. Die feestelikhede is afgesluit met ‘n 70 sweepslag Doornkloof saluut, die onthulling van die Doornkloof Feesmonument en die inwyding van die Sarel Cilliers Museum. Die dag het wye media dekking geniet en daar is op 27 en 28 September 2009 berigte op SAUK TV nuus uitgesaai asook op Radio Rosestad, Radio Pretoria, RSG en 5FM. Volksblad het ook verskeie berigte geplaas rakende die grootse gebeurtenis.

Die volgende persone word opreg bedank vir hul harde werk om die Sarel Cilliers Museum moontlik te kon maak: KL Willie Engelbrecht, Mnr. Ronnie Theron, Mev. Freda Theron, Mnr. Hendrik Engelbrecht, Mev. Gerda Engelbrecht, AKL Annamarie van Eck, Mnr. Shadrack Qanthana, Mnr. David Khumalo, Mnr. Joseph Mokoena, die personeel van die Departement Sport, Kuns en Kultuur en almal wat items aan Die Voortrekkers Vrystaat geskenk het. Die museum is finansieel moontlik gemaak met befondsing deur die 2009 Gebiedsbestuur van Die Voortrekkers Vrystaat, die erflating van Mev. Hannatjie Badenhorst en verskeie skenkers wie nie hul name genoem wil hê nie.

President Paul Kruger het gesê: “Haal uit die verlede dit wat goed is en bou daarop voort.” Met die totstandkoming van die Sarel Cilliers museum kan die Afrikanerjeug bewus word van hul erfenis en waar hul vandaan kom. Met dit in hul harte kan hul moderne afrikaners, positiewe burgers en konsekwente christene wees.

Sluit aan by die Sarel Cilliers Museum Facebook groep